Tuesday, May 14, 2013

Onderwys...bowys....tussenin-wys

As onderwyser het ek al baie beleef in die drie lande waar ek onderwys gegee het:  Suid-Afrika, Engeland en Skotland.  (Tegnies is Skotland deel van Brittanje, maar in praktyk heelwat anders).  Onderwys en onderrig is op 'n basiese vlak orals dieselfde, en dis kulture wat die verskil maak, eerder as tegnieke, leerplanne ensovoorts.  Iemand het my wel op 'n interessante ding gewys:  in Brittanje vertrou mense die staat met gesondheidsdienste, maar nie die onderwys, en in VSA is dit andersom. Mense hier stuur hul kinders staatskole toe maar vertrou nie die staatgesubsidiëerde gesondheidsorg nie.  Weet nie hoe dit tans in SA gaan nie, maar toe ek laas daar was, was ons meer soos die Amerikaners as die Britte.

Meeste van my vriende in Suida Afrika stuur deesdae hulle kinders na privaatskole, behalwe as jy naby 'n fancy staatskool bly. (En daarvoor moet ook ruim betaal word, as ek reg verstaan).  In Engeland was dit 'n 'postcode lottery' wat skole betref, en moet jy baie opdok om óf in die regte area to woon, óf om plek in privaatskool te kry. Skotland is bekend vir sy privaatskole, alhoewel ek geen probleem ondervind in die staatskole nie.  Sommige was beter as ander, maar almal is oor die algemeen goed.

Hier in CA hang dit ook grootliks van waar jy bly af.  Ons bly aan die noordekant van ons straat, in 'n goeie (onbeskostigbaar-om-in-te-koop) buurt, maar die laerskool in ons zone is baie 'swak' - volgens die webwerf Greatschools wat elke skool volgens 'n puntestelsel gradeer.  Skole word oor dieselfde kam geskeer, naamlik die API toetsuitslae: "The API reflects year-over-year schools performance based on STAR test score results", en ons laerskooltjie kry 'n skamele drie uit tien.  Vir díe area is dit 'n skande, maar na 'n bietjie rondsnuffel kom ek die volgende agter:

1.  Die toetsresultate word volgens etnisiteit gegradeer.  En by ons laerskooltjie doen die Hispanics (Meksikaanse Spaanse) die slegste.  En die gradering wys resultate volgens geslag en ouderdomsgroep.
2.  Die studente word in etniese subgroepe verdeel (59% van die skool is Spaans) en hoeveel punte elke etniese subgroep presteer. (Asiërs kry 9, Spaans kry 1)

In Suid-Afrika sou hierdie tipe verdeling 'n oproer veroorsaak het.  Baie van die Meksikane is immigrante, onwettig of wettig, en praat/skryf/lees nie besonder goed Engels nie.  Meksikaanse ouers word daarvan beskuldig dat hulle nie hul kinders met huiswerk help nie, nie gereeld vir hul kinders lees nie, en dat opvoeding nie belangrik geag word nie.  Maar ek weet nie hoe jy jou kind met huiswerk/lees help as jy twee aaklige jobs gelyktydig moet doen om kos op die tafel en klere aan jou lyf te kry nie.  Want die ander statistiek is duidelik:  61% van die kinders by die skooltjie kom vir gratis middagete in aanmerking. (Dit is a fasiliteit by skole vir lae inkomste families)

Maar net voor mens gemaklik raak en dink jy verstaan hoe die plek werk, ry daar iemand met sy groot monstervoertuig by jou verby met hierdie agterop:


Regtig!