Wednesday, April 24, 2013

Nagtelike besoekers

Daar breek 'n oomblik in elke immigrant se lewe aan wat jy besef:  NOU is jy tuis in 'n ander land.  My oomblik het saam met twee raccoons oor die heining aangesluip.

My man roep my een aand opgewonde vanuit die kombuis, en eers wil ek hom ignoreer want ek's seker hy's weer opgewonde oor Android se nuwe sagteware of iets dergeliks.  Maar die keer is dit legitiem:  buite ons agterdeur snuffel twee raccoons!  Regte, egte, pegte raccoons (wasbere?!) met dik swart-en-wit pelse en pote wat soos handjies lyk.

Hiert so wasbeer


Hulle het om die oop kombuisdeur gesnuif agter die katkos aan, en my katte was teen daardie tyd goed vies vir die ongenooide indringers.  Ons het kos vir hulle gegee en fluisterend-opgewonde gekyk hoe hulle dit girts-girts opvreet, bedrewe met die klein pootjies.


'n Happie asseblief?

Dit was so opwindend dat ons summier fotos vir al ons vriende en bure hier gestuur het, en hulle reaksie was min-of-meer:  'eeeeeeuuuugh!'  Blykbaar is wasbere 'n pes en moet mens hul ten alle koste nie voer nie.  As hulle jou as kosverskaffers 'aanneem', sal hul skynbaar weldra jou huis oorneem op soek na peuselhappies. Soos in 'search and destroy'.  En die pels wemel van luise, vlooie, hondsdolheid, austerity measures en ander pestilensies.

Vir ons was dit 'n GROOT oomblik, want so iets sou ons nooit in SA sien nie (wel slange, ape, reuse spinnekoppe en akkedisse). En ook nie in Skotland nie (tuiste van eekhorinkies, swart voëls, soms 'n krimpvarkie).  Maar 'n raccoon IS Amerika, en hulle het my behoorlik lekker laat kry.


No comments:

Post a Comment